Vyf jaar (of is dit nou tien?)
- Wilmarie Myburgh
- Mar 13, 2024
- 2 min read
Sondag was my en manlief se 5de huweliksherdenking… maar ons stap al die paadjie dubbeld so lank. Daar is definitief dinge wat verander wanneer mens getroud is, maar nietemin leer mens jou ander helfte in ag neem sodra jy in ’n verhouding is.
Tien jaar. Tien jáár.
Dis ’n leeftyd. Verskillende weergawes van self. Van my. Van jou. Van ons.
Eers was dit die jong studente. Ons was 21 om presies te wees. Verlief en absoluut droomverlore. En ja, dit was die classic “love at first sight” op sy beste. En vandag is ons ouers. ’n Gesinnetjie van vier.
Jy het noudiedag vir my pa gesê dis nog nie sewe sakke sout nie. I beg to differ. Ek het vinnig ’n lysie gemaak van die hoofgebeure sedert ons begin uitgaan het:
2014 – Ons is “amptelik” in ’n verhouding
2015 – ’n Jaar later word ons gemug en van ons selfone en beursies beroof.
2016 – Jy gaan werk vir ’n jaar in Australië en ek in Thailand. Ons video call en whatsapp nie. Enigste kommunikasie is epos.
2017 – Jy kry werk in Robertson en ek au pair in Welgemoed.
2018 – Ons raak verloof in die Visrivier Canyon.
2019 – Ons trou en trek plaas toe (tussen Gouda en Porterville)
2020 – Mamma word met pankreaskanker gediagnoseer, Covid en Lockdown tref en ons raak swanger.
2021 – Ons raak ouers! (Nelia word gebore.)
2022 – Mamma groet ons. En ons raak weer swanger. Ons seuntjie word by die 13 weke scan met ’n gesplete lip en verhemelte gediagnoseer.
2023 – Sion word gebore.
2024 – En vandag is ons ’n gesinnetjie van vier.
Ek hoef seker nie ons lewe so op die wye web te plaas nie. Maar ek was nog altyd beter met geskrewe woorde. As ek iets op die hart het en te vroeg praat uhm en ah ek elkgeval net. Skryf, aan die ander kant, kan ek tien keer of meer oor doen, tot dit reg klink. Tot die woorde, swart op wit, die boodskap reg oordra.
Soms vergeet ek dat dinge nie net met my gebeur nie, maar Jy het ook ’n ma verloor, al was dit nie jou eie nie. ’n Moederfiguur wat jy “mamma” genoem het. En jou seuntjie is ook ’n jaar na die eerste verlies met ’n gesplete lip en verhemelte gebore. Alles wat my raak, raak jou ook. Ons gaan deur dieselfde goed, maar ons hanteer dit verskillend. En moes so ook leer om mekaar te ondersteun en te hanteer.
Wat ek eintlik hier wil sê is: Ek waardeer jou.
Ek sien hoe hard jy werk en dat jy ten spyte van moeg en min slaap steeds met jou dogtertjie speel. (Op hierdie stadium wil Sion nog nie veel van pappa weet nie) Na 10 jaar deur dik en dun kies ek jou steeds. Jy is nie die jong seun op wie ek verlief geraak het nie.
Jy het verander. “Verbeter.” Gegroei.
Jy is ons steunpilaar.
Ek het jou lief.
Xxx
Comments