Wat is Moedersdag sonder 'n ma?
- Wilmarie Myburgh
- May 12, 2024
- 3 min read

Kort nadat my moeder die tydelike met die ewige gewissel het, het ek haar in ander vroue gesoek. My peetma, my ma se suster, haar vriendin, kollega.
Ek beskou myself nie as materialisties nie, maar ek het hierdie diep behoefte gehad dat iemand saam met my moet gaan om klere te koop. Iemand wat “oe” en “a” op die regte plek. Of sommer sê: “Nee, sussie. Daardie kleur doen nie iets vir jou nie.”
So soek ek eendag ’n rok om na my skoonsus, Tanja, se troue toe aan te trek. Ek is 34 weke swanger met my seuntjie en ek voel vet. En lelik.
My pa staan my letterlik by deur die hele proses. My rots. My vangnet en steunpilaar. (Toe my ma nog geleef het, het my pa altyd eerder tuis gebly as daar ’n klere-uitstappie ter sprake is.) Na elke aanpas maak ek die aanpashokkie se deur oop, wagtend op sy kommentaar. Hy knik goedkeurend en sê: “Dis mooi,” op byna alles wat ek aanpas, maar dit help nie veel nie. Vir my pa was ek nog altyd die mooiste (ek bedoel dit nie verwaand nie, ek is sy enigste meisiekind. Dit hoort so.)
Toe ek die laaste keer by die aantrekhokkie uitkom, laat ’n gryskop tannie van haar hoor: “Sjoe, Jy lyk pragtig in daardie rok. Die groen bring jou oë uit.”
Ek straal. “Baie dankie, tannie.”
“Weet jy, sy het nodig gehad om dit van ’n vrou te hoor. Baie dankie. Haar ma, my vrou, is verlede jaar oorlede en vir party goed kan ’n pa nie instaan nie.”
Met die aanloop tot Tanja en Petrie se troue, vra sy dat my dogtertjie, Nelia, ’n blommemeisie moet wees.
Ja, sê ek. Maar jy moet onthou sy is twee. Jy moet haar maar vat soos daardie dag kom. In die beplanningfase van die groot dag stuur Tanja ’n foto van ’n maroon rokkie. My oë dam op.
“My ma sou dit kon maak,” stuur ek.
“Ja, ek het ook nogal dadelik so gedink,” antwoord sy terug met ’n drukkie emoticon.
Vir weke loop en stoei ek met die gedagte. Tannie Alae sal die rokkie kan maak. Ek moet haar vra. Ek wil haar vra. Ek wil dit nie láát maak nie. Ek soek ’n ma.
Ek dink tannie Alae voel die druk en gaan vra raad by ’n naaldwerk-boffin. Tannie Roezan Lewis, einste een saam met wie my ma gereeld konsertklere vir skool en universiteitsdae gemaak het. Toeval? I think not.
Met Tanja en Petrie se bruilof gedra Nelia haar bo verwagting goed. Sy loop vingeralleen met die paadjie af en gaan staan kiertsregop lang die bruidsmeisies, so asof ons dit vooraf met haar ingeoefen het.
Ses weke na Sion se geboorte en ook met sy eerste lipoperasie kom kuier my ma se suster by my. Ek wil hê sy moet my help om ’n romp te maak, want ek het nog net naaldwerk gedoen in die veilige hawe van my ma se teenwoordigheid.
Ek sê iets en sy reageer: “Jong, ek kan nie naaldwerk doen soos jou ma nie.”
Met haar woorde sink hierdie waarheid en aanvaarding in: Niemand is my ma nie.
En niemand sal ooit sy wees nie.
Maar God sien my behoefte en Hy stuur vir my “ander” ma’s.
In elke vrou vind ek ’n stukkie van my eie ma.
Comentarios